Ons Storie

03/09/09

Home

 

Emile

Ons het vier kinders - Elmarie, Marisa, Lúdwich and Emile. Ek het nie verkeerd getik nie, Emile is nog steeds ons seun - hy bly net op 'n ander plek.

Ons plan was om drie kinders te hê maar Lúdwich het aanmekaar dankie gesê vir sy boetie as dit sy beurt was om aan tafel te bid. Ons het gedink dat hy vroeg sou leer dat NEE ook 'n antwoord was. Toe is Emile gebore. Ons was in die wolke alhoewel hy nie beplan was nie. Toe hy uit die baarmoeder kom, het ek hom, terwyl hy vol bloed was, aan die Here opgedra.

Hy was nooit seker wat hy met sy lewe wou doen nie - tot hy vir Neels Grobler van die TUKS Rugby Akademie in die Spur raakgeloop het. Van toe af was dit net rugby. Sy liefde vir rugby het in standerd 9 begin toe hy saam met 'n skoolvriend van hom by Harlequins gaan rugby speel het.

Van toe af wou hy net met alle geweld groter word omdat hy geglo het dit was sy grootte wat gekeer het dat hy gereeld vir die spanne gekies word. Ongelukkig was hy baie gepla met beserings en kon hy nooit regtig 'n merk in rugby maak nie. Maar hy het ontsettend geestelik gegroei.

Na TUKS Rugby Akademie ontmoet hy vir Sebastiaan Victor, die Algemene Bestuurder van die Protea Hotel by Technopark in Stellenbosch. Ina en ek het die Here gevra dat Emile op 1 Januarie sou weet wat hy met sy toekoms wou doen.Op 1 Januarie besluit Emile hy wil hotelbestuur gaan studeer.

Terwyl hy op vakansie is in Saldanha, word hy vermoor en die kamer aan die brand gesteek om die bewyse weg te steek.

Ons het geglo dat God ons kinders sou beskerm EN dat ons die mag het om mense uit die dood uit op te wek en daarom was hierdie 'n ontsettende slag vir ons familie.

Saterdag aand kom Marisa na ons toe en sê dat sy gaan vas want sy wil nie eendag hê die Here moet vir haar vra waarom sy niks gedoen het om Emile op te wek nie. Ons besluit toe dit is 'n wonderlike idee en net daar besluit ons om Emile te gaan opwek uit die dood. Ons het sy tassie ingepak want al sy klere is in die vuur verbrand. Selfs sy skoene is ingepak.

Ina kry 'n boodskap by die Here: "Listen and obey". Ina besluit dat die enigste een wat hier gaan "listen" gaan Emile wees.

Ek kry 'n boodskap by die Here: "Ek is die God van Waarheid". Ek besluit dit is my vers dat Emile gaan opstaan en my hart jubel in my - ons seun gaan opstaan.

Magda Grobler kry 'n droom: Hulle is saam met ons waar ons bid. Emile se arms begin verkleur. Toe sy opkyk teen die plafon, sien sy in Emile se handskrif: "Ek wil nie terugkom nie". Magda besluit sy gaan nie die boodskap aan ons gee nie want dit kan dalk ons geloof beïnvloed.

Ons ry die Maandag oggend na die lykshuis toe om Emile uit te ken. Ons gaan deur al die hordes papierwerk en toe is dit tyd om Emile uit te ken en op te wek uit die dood. Ina het nooit na Emile se liggaam gekyk nie en begin om Emile te beveel om uit die dood op te staan terwyl die ander mense daar by staan. Ek het my hande op Emile gelê om hom beveel om te genees en op te staan. Na 'n kwartier word ons gevra om te loop. Toe ons by die deur kom, weier Ina om te loop. Sebastiaan reël gou dat ons nog tyd kan kry. Hulle gee ons nof 1,5 uur. Ons is bly - dit is genoeg tyd om hom op te wek. Al ons kinders staan buite en bid saam met ons behalwe Elmarie - sy sit op die vloer by ons en bid saggies saam.

Na 'n uur en 'n kwart voel ek die Here is nie meer beïndruk met ons nie. Hy sê Emile is 'n spesiale geval. Ek wil nie luister nie en dink dit is my vlees wat net nie verder wil bid nie. Nou bid ek rukkies om Emile op te wek en wag dan om te hoor of ek nie nog iets by die Here hoor nie.

Ek vra vir Ina om te wag, die Here wil vir haar iets sê. Sy praat in tale maar kry nie die uitleg nie. Weer hoor ek die Here sê: Emile wil nie terugkom nie.

Na 'n uur en 'n half (uur en 'n driekwart altesaam) staan ek op en sê vir Ina - Emile wil nie terugkom nie en die Here is nie beïndruk dat ons langer vra nie. Eers later sou ons agterkom dat Magda reeds die antwoord gekry het dat Emile nie wil terugkom nie - EN dat hy amper teruggekom het al wou hy nie (dit is hoekom sy gedroom het dat sy vel reeds verkleur het.

Ek staan op en sit my arms om my vegtende vrou. Ek was nog nooit so trots op haar soos daardie dag nie. Ek weet sy sal my nooit alleen los nie. Sy kom tot ruste en ek sê vir haar wat die Here vir my gesê het. Stadig kom die besef dat Emile nie gaan terugkom nie. Ons loop geskok uit die vertrek uit. Ons begrawe hom 'n tweede keer. Ons verstaan nie. Die Here se beloftes van opwekking en beskerming het nie gewerk nie.

    Ons bly nog ontsteld omdat ons vir sy beskerming gevra het en hy dit nie gekry het nie.

    Ons begin om die ding te analiseer: Die Here is die God van Waarheid en kan nie lieg nie. Die duiwel kan nie keer dat ons iemand uit die dood opwek nie. Die probleem moet by ons lê. Waar is hierdie probleem?

Toe, op 16 Februarie om 11nm lê Ina in die kamer en ek sit voor e-Sword om by die Here antwoorde te kry. Skielik staan Ina op en kom sit by my. Die Here sê ek moet Job toe gaan en alles vergeet wat ek voorheen by enige Bybelskool geleer is. Eers weier ek want Job kan my niks leer nie. Die Here dring aan daarop dat ek na Job toe moet blaai. Ina en ek blaai soontoe en toe begin die Here met ons deel:

Job 1:1 Daar was ‘n man en vrou in die land Suid Afrika. Hulle name was Johan & Ina Maartens; en hulle was vroom en opreg en godvresend en het afgewyk van die kwaad.

Job 1:2 En vir hulle is daar twee seuns en twee dogters gebore.

Job 1:3 Daarby het hulle baie besittings gehad en het ingesluit drie huise en woonstelle, twee bote, drie karre, sodat dié twee ryker was as die meeste mense in Suid Afrika.

Job 1:4 En hulle kinders was gewoond om by mekaar te kuier en saam te eet. Hulle het beurte gemaak om saam te eet by mekaar se huise al was hulle versprei oor Suid Afrika..

Job 1:5 Johan en Ina het gereeld die môre vroeg klaar gemaak en dan vir elkeen van hulle gebid vir beskerming want Johan en Ina het gedink: Miskien het my kinders gesondig en iets verkeerd gedoen. So het Johan en Ina altyd gedoen.

Job 1:6 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.

Job 1:7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.

Job 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my knegte Johan en Ina? Want daar is niemand op die aarde soos hulle nie: ‘n man en vrou vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.

Job 1:9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Johan & Ina God vrees?

Job 1:10 Het U nie self hulle en hulle huis en alles wat hulle het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van hulle hande het U geseën, en hulle besittings het sterk vermeerder in die land.

Job 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hulle het—waarlik, hulle sal U in u aangesig vloek!

Job 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hulle het, is in jou hand; net na hulle self mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.

Job 1:13 En op ‘n dag, terwyl hulle seuns en sy dogters besig was om te eet en te drink en soos gewoonlik te lewe

Job 1:14 kom ‘n boodskapper na hulle en sê:

  •  Jou dogter (Marisa) se man was in 'n kar ongeluk - hy het agter die stuur aan die slaap geraak

  •  Toe kom nog een: Jou oudste seun (Lúdwich) se vrou was betrokke in 'n hi-jack

  •  Toe kom nog 'n boodskapper en sê: Jou oudste dogter (Elmarie) is geskei

  •  Toe kom nog 'n boodskapper en sê: Lúdwich was in 'n motorfiets ongeluk

  •  Toe is Johan en Ina betrokke in 'n "Smash & Grab"

  •  Toe kom die laaste boodskapper en sê: "Jou jongste seun (Emile) is in 'n hotelkamer in Saldanha vermoor"

Job 1:20 Toe staan Johan en Ina op en ween bitterlik terwyl hulle in aanbidding op die grond neerval om antwoorde te kry

Job 1:21 en sê: Niks hiervan is in lyn met God se wil nie. Niks maak sin nie want die Here het ons geseën en nie vervloek nie: die Naam van die HERE sy geloofd!

Job 1:22 By dit alles het Johan en Ina nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie

 

En nadat die aande verbygegaan het terwyl Johan en Ina geworstel het met die rede waarom die engele nie hulle seun beskerm het nie,

Job 42:1 Toe het Johan en Ina die HERE geantwoord en gesê:

Job 42:2 Ons weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Job 42:3 Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ons dan gedink sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir ons, wat ons nie begryp nie.

Job 42:4 Hoor tog, en ons sal spreek; ons sal U ondervra en onderrig U ons!

Job 42:5 Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.

Job 42:6 Daarom herroep ons en het berou in stof en as.

 

En op die 16de Februarie eindig die Here die boodskap af met:

Job 42:7 En nadat die HERE Johan en Ina toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE: "Johan en Ina, julle het reg van My gespreek"

Job 42:10 En die HERE het die lot van Johan en Ina verander; en die HERE het hulle besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.

Job 42:11 Ook het al hulle broers en al susters en al die bekendes van vroeër het na hulle toe gekom en met hulle saam brood geëet in hulle huis; en hulle het met Johan en Ina medelyde gehad en hulle vertroos oor al die onheil wat oor hulle gekom het.

Job 42:12 En die HERE het die einde van Johan en Ina meer geseën as hulle begin.

Job 42:13 Daarby het hulle baie kleinseuns en kleindogters gehad.

Job 42:15 En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Johan en Ina nie; en hulle vader het hulle ‘n erfdeel gegee onder hulle broers.

Job 42:16 En Johan en Ina het daarna honderd en veertig jaar lank gelewe; en hulle het hulle kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.

Job 42:17 En Johan en Ina het gesterwe, oud en afgeleef.

    Dit kom basies daarop neer dat Satan by die Here gaan stellings maak het oor ons familie dat ons Hom net aanbid omdat alles so goed gaan met ons deur die Here se beskerming. Die Here sê toe dit is nie so nie, ons almal dien Hom eerlik en opreg.

    Toe probeer Satan om my dood te maak maar dit het misluk – en nogtans het ons as familie nie teen die Here gedraai nie. Toe val Satan ons kinders aan en nogtans het ons as familie nie teen die Here gedraai nie. Elmarie, Marisa, Chrisjan, Lúdwich en Desiree was almal in die gedrang – selfs Sebastiaan.

    Die laaste strooi was toe Satan se trawante Emile doodgemaak het. Nou het ons aan Satan bewys dat ons nie net die Here dien omdat Hy ons beskerm nie – ons is regtig lief vir Hom.

    Nou weet ons dit ook – dat dit nie saak maak wat met ons gebeur nie, ons sal nie teen die Here of Sy Woord draai nie. Hy bly die God van Waarheid. Nou het die Here die hele ding van Satan stopgesit soos in die geval van Job en gesê dat ons meer sal ontvang as wat ons ooit gehad het en dat ek en Mamma nie net julle kinders sal sien opgroei nie, maar ook hulle kinders.

    Wat dan van Emile? Hy kuier nou by ons ouers en daarom wil hy nie terugkom nie. Daarom het die Here vir ons gesê dat Emile ‘n spesiale geval is – nie elke mens gaan deur die Job ondervinding nie, en nie elkeen kry die belonings van die Job ondervinding nie. Ons as familie het die Here eers van hoorsê geken en gekonsentreer op Sy beloftes, maar toe die beloftes inmekaar stort het ons na die Here toe gedraai en vir almal gewys dat ons nie agter die beloftes van die Here aan is nie, maar agter die Here van die beloftes.

    Die verskil tussen ons en Job was dat ons vriende gehad het wat geweet het waarvoor ons staan en wat die Here geken het. Hulle het nie ons aksies veroordeel nie en huille het nie gesê ons gaan deur hierdie dinge omdat ons iets verkeerd gedoen het nie. Daarom kon ons sterk staan en nie soos Job huil oor wat oor ons gekom het nie. Die Here is net so trots op ons vriende as wat ons is omdat hulle by ons gestaan het en nog steeds staan. Selfs ons familie staan by ons.

    Mag die Here julle ook so vertroos soos Hy ons gisteraand baie laat getroos het in die wete dat die beproewings verby is en dat ons bid:”En lei ons nie in versoekings nie, maar verlos ons van die bose”.

    Die Here is die God van Waarheid en sal doen wat Hy belowe. Hierdie ding het tot Emile se voordeel gebeur en ons sal ook nog die voordeel daarin sien sodra Sy Heilige Gees ons vertroos het en ons pyn minder is. Ek is lief vir julle en ek is bitter jammer dat julle deur hierdie Job ondervinding moes gaan. Maar weet dit – die Here is nog liewer vir julle as wat ek is en sal sorg dat geen haar op julle hoofde iets sal oorkom sonder dat Hy daarvan weet nie.

    Ons het die ergste toets van ons lewens geslaag en daarvoor dank ek die Here vir julle. Ons voordeel was dat ons nie vriende soos Job gehad het nie – ons het mekaar gehad (en dit sluit Sebastiaan en Lorelai in asook al ons vriende van die Bybelskool). Julle was en is nog steeds almal sterre. Dankie dat julle nie opgegee het nie. My hart swel van trots omdat ek julle ken.

    Julle is ons baniere wat ons op die aarde sal los nadat ons terug is Huistoe en die mense sal weet dat die Here goed is en Sy beloftes nakom. Hulle sal julle as voorbeelde hê van mense wat nie weet wat dit beteken om op te gee nie, maar soos ‘n rots staan, soos ‘n boom by waterstrome, vol van Christus se liefde.

    Julle het die reg verdien om julleself op die skouer te klop en te sê: “Ek het ruggraat. Die saad wat in my bedding val sal groei en baie vrug dra. Hierdie ruggraat is ook in my kinders en sal in hulle kinders wees tot eer van die Here. Moenie oor my jubel nie, o my vyand, ek sal opstaan en ek sal oorwin. My asem kan nie opraak nie want Sy asem is in my. Die verlede is agter my en Sy oorwinning lê voor”

    _______________________________________________________________________________________

    Ek sit in die kantoor en besluit om 'n video van Emile te kyk wat ons gemaak het. Dit is 'n waagstuk want ek huil maklik as ek na die video kyk.

    Emile se fotos en videos kom oor die skerm en skielik kyk ek na hom met ander oë - hy is nie langer my seun wat aan God geleen is tot ek in die hemel kom nie, hy is God se seun wat aan ons geleen is. Die pa - seun verhouding is weg - dit is meer soos broer - broer maar met ontsaglike liefde, liefde wat onvergelykbaar is met enige iets wat ons op die aarde beleef, soortgely aan die mees intieme verhouding tussen 'n man en vrou. Skielik is ek onvoorwaardelik lief vir Emile. Ek weet skielik ek gaan nie sy agterend skop as ek in die hemel kom omdat hy nie wou terugkom nie - al sê ek dit baie om die hartseer weg te steek.

    Hy is nie net 21 nie - hy is 'n volwasse man, 'n kind van God, sonder bekommernisse en sonder negatiwiteit, volkome een met God die Vader, Jesus en die Heilige Gees.

    Elke keer as ek twyfel of ons te min gedoen het om hom op te wek, dan herinner die Here my aan die feit dat Hy 'n God van Waarheid is.

    Elke keer as ek kwaad is omdat die Here nie vir Emile beskerm het soos ons gevra het nie, dan weet ek dat Emile 'n spesiale geval was. Die Here wil nie hê dat ons dood moet gaan voor ons 100 jaar oud is nie. Die Here wil nie hê dat ons in ons bed aangeval moet word nie, of dat ons met klippe doodgemaak moet word soos met sommige van Sy dissipels nie, maar partykeer gaan ons deur die Job Ervaring omdat daar dinge is wat gebeur in die hemel wat nie inpas in ons humanistiese denke nie.

    God se gedagtes is nie ons sin nie en ons sin is nie God sin nie - MAAR DIE HERE WIL DIT NIE SO Hê nie. Hy wil hê ons gedagtes moet Syne wees en Sy gedagtes moet ons s'n wees. Al wat ons moet doen is om te luister en God sal dit verduidelik.

    Maar ons sal ons humanistiese denkes moet opgee. Emile is nie dood nie, hy het gegradueer en is huistoe. Hy is in God se teenwoordigheid.

    Maar wat van ons? Die Here wil nie hê dat ons net aan onsself moet dink en treur nie, ons moet bly wees vir Emile se part dat hy waardig geag was om so gou hemel toe te gaan. Ons lewe op die aarde is vir ons en God belangrik, maar ons moet nie daaraan klou asof dit al is wat bestaan nie. Sodra jy dood gaan, is jy in die hemel (as jy vir die Here gesê het jy is jammer oor jou sondes en jy aanvaar Jesus as die Persoon wat vir al jou sondes betaal het).

    Die Bybel se bladsye gee vir ons die algemene reëls en riglyne, maar ons verhouding bestaan uit baie meer uit as reëls en regulasies. Luister na Sy Gees en neem wat Hy sê ernstig op. Moenie dat die Duiwel jou oortuig dat die gedagtes wat in jou opkom net uit jouself is nie. Spandeer tyd met die Here dan sal dit makliker wees om Sy stem te herken.

    Johan

     

Doebie Kontien joed

Dit was die woorde wat hy geskryf het toe hy in die laerskool was en te lui was om verder aan die opstel te skryf. Dit het die skool se koerantjie gehaal!

Nou sê ons ook so omdat ons hom weer gaan sien dan sit ons ons verhouding voort net daar in die hemel!

 

Home

This site was last updated 02/27/09