Emile
Ons het vier kinders - Elmarie, Marisa, Lúdwich
and Emile. Ek het nie verkeerd getik nie, Emile is nog steeds ons seun -
hy bly net op 'n ander plek.
Ons plan was om drie kinders te hê maar Lúdwich
het aanmekaar dankie gesê vir sy boetie as dit sy beurt was om aan
tafel te bid. Ons het gedink dat hy vroeg sou leer dat NEE ook 'n
antwoord was. Toe is Emile gebore. Ons was in die wolke alhoewel hy
nie beplan was nie. Toe hy uit die baarmoeder kom, het ek hom,
terwyl hy vol bloed was, aan die Here opgedra.
Hy was nooit seker wat hy met sy lewe wou doen nie - tot hy vir
Neels Grobler van die TUKS Rugby Akademie in die Spur raakgeloop
het. Van toe af was dit net rugby. Sy liefde vir rugby het in
standerd 9 begin toe hy saam met 'n skoolvriend van hom by
Harlequins gaan rugby speel het.
Van toe af wou hy net met alle geweld groter word omdat hy geglo
het dit was sy grootte wat gekeer het dat hy gereeld vir die spanne
gekies word. Ongelukkig was hy baie gepla met beserings en kon hy
nooit regtig 'n merk in rugby maak nie. Maar hy het ontsettend
geestelik gegroei.
Na TUKS Rugby Akademie ontmoet hy vir Sebastiaan Victor, die
Algemene Bestuurder van die Protea Hotel by Technopark in
Stellenbosch. Ina en ek het die Here gevra dat Emile op 1 Januarie
sou weet wat hy met sy toekoms wou doen.Op 1 Januarie besluit Emile
hy wil hotelbestuur gaan studeer.
Terwyl hy op vakansie is in Saldanha, word hy vermoor en die
kamer aan die brand gesteek om die bewyse weg te steek.
Ons het geglo dat God ons kinders sou beskerm EN dat ons die mag
het om mense uit die dood uit op te wek en daarom was hierdie 'n
ontsettende slag vir ons familie.
Saterdag aand kom Marisa na ons toe en sê dat sy gaan vas want sy
wil nie eendag hê die Here moet vir haar vra waarom sy niks gedoen
het om Emile op te wek nie. Ons besluit toe dit is 'n wonderlike
idee en net daar besluit ons om Emile te gaan opwek uit die dood.
Ons het sy tassie ingepak want al sy klere is in die vuur verbrand.
Selfs sy skoene is ingepak.
Ina kry 'n boodskap by die Here: "Listen and obey". Ina besluit
dat die enigste een wat hier gaan "listen" gaan Emile wees.
Ek kry 'n boodskap by die Here: "Ek is die God van Waarheid". Ek
besluit dit is my vers dat Emile gaan opstaan en my hart jubel in my
- ons seun gaan opstaan.
Magda Grobler kry 'n droom: Hulle is saam met ons waar ons bid.
Emile se arms begin verkleur. Toe sy opkyk teen die plafon, sien sy
in Emile se handskrif: "Ek wil nie terugkom nie". Magda besluit sy
gaan nie die boodskap aan ons gee nie want dit kan dalk ons geloof
beïnvloed.
Ons ry die Maandag oggend na die lykshuis toe
om Emile uit te ken. Ons gaan deur al die hordes papierwerk en toe
is dit tyd om Emile uit te ken en op te wek uit die dood. Ina het
nooit na Emile se liggaam gekyk nie en begin om Emile te beveel om
uit die dood op te staan terwyl die ander mense daar by staan. Ek
het my hande op Emile gelê om hom beveel om te genees en op te
staan. Na 'n kwartier word ons gevra om te loop. Toe ons by die deur
kom, weier Ina om te loop. Sebastiaan reël gou dat ons nog tyd kan
kry. Hulle gee ons nof 1,5 uur. Ons is bly - dit is genoeg tyd om
hom op te wek. Al ons kinders staan buite en bid saam met ons
behalwe Elmarie - sy sit op die vloer by ons en bid saggies saam.
Na 'n uur en 'n kwart voel ek die Here is nie meer beïndruk
met ons nie. Hy sê Emile is 'n spesiale geval. Ek wil nie luister
nie en dink dit is my vlees wat net nie verder wil bid nie. Nou bid
ek rukkies om Emile op te wek en wag dan om te hoor of ek nie nog
iets by die Here hoor nie.
Ek vra vir Ina om te wag, die Here wil vir
haar iets sê. Sy praat in tale maar kry nie die uitleg nie. Weer
hoor ek die Here sê: Emile wil nie terugkom nie.
Na 'n uur en 'n half (uur en 'n driekwart altesaam) staan ek op
en sê vir Ina - Emile wil nie terugkom nie en die Here is nie beïndruk
dat ons langer vra nie. Eers later sou ons agterkom dat Magda reeds
die antwoord gekry het dat Emile nie wil terugkom nie - EN dat hy
amper teruggekom het al wou hy nie (dit is hoekom sy gedroom het dat
sy vel reeds verkleur het.
Ek staan op en sit my arms om my vegtende vrou. Ek was nog nooit
so trots op haar soos daardie dag nie. Ek weet sy sal my nooit alleen
los nie. Sy kom tot ruste en ek sê vir haar wat die Here vir my gesê
het. Stadig kom die besef dat Emile nie gaan terugkom nie. Ons loop
geskok uit die vertrek uit. Ons begrawe hom 'n tweede keer. Ons
verstaan nie. Die Here se beloftes van opwekking en beskerming het nie gewerk
nie.
Ons bly nog ontsteld omdat ons vir sy beskerming gevra het en hy
dit nie gekry het nie.
Ons begin om die ding te analiseer: Die Here is die God van
Waarheid en kan nie lieg nie. Die duiwel kan nie keer dat ons iemand
uit die dood opwek nie. Die probleem moet by ons lê. Waar is hierdie
probleem?
Toe, op 16 Februarie om 11nm lê Ina in die kamer en ek sit voor
e-Sword om by die Here antwoorde te kry. Skielik staan Ina op en kom
sit by my. Die Here sê ek moet Job toe gaan en alles vergeet wat ek
voorheen by enige Bybelskool geleer is. Eers weier ek want Job kan
my niks leer nie. Die Here dring aan daarop dat ek na Job toe moet
blaai. Ina en ek blaai soontoe en
toe begin die Here met ons deel:
Job 1:1
Daar was ‘n man en vrou in
die land Suid Afrika. Hulle name was Johan & Ina Maartens; en
hulle was vroom en opreg en godvresend en het afgewyk van die
kwaad.
Job 1:2
En vir hulle is daar twee seuns
en twee dogters gebore.
Job 1:3
Daarby het hulle baie
besittings gehad en het ingesluit drie huise en woonstelle, twee
bote, drie karre, sodat dié twee ryker was as die meeste mense
in Suid Afrika.
Job 1:4
En hulle kinders was gewoond om
by mekaar te kuier en saam te eet. Hulle het beurte gemaak om
saam te eet by mekaar se huise al was hulle versprei oor Suid
Afrika..
Job 1:5
Johan en Ina het gereeld die
môre vroeg klaar gemaak en dan vir elkeen van hulle gebid vir
beskerming want Johan en Ina het gedink: Miskien het my kinders
gesondig en iets verkeerd gedoen. So het Johan en Ina altyd
gedoen.
Job 1:6
En op ‘n dag toe die seuns van
God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder
hulle gekom.
Job 1:7
Toe vra die HERE vir die Satan:
Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van
‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
Job 1:8
En die HERE vra vir die Satan:
Het jy ag gegee op my knegte Johan en Ina? Want daar is niemand
op die aarde soos hulle nie: ‘n man en vrou vroom en opreg,
godvresend en wat afwyk van die kwaad.
Job 1:9
En die Satan antwoord die HERE
en sê: Is dit verniet dat Johan & Ina God vrees?
Job 1:10
Het U nie self hulle en hulle
huis en alles wat hulle het, aan alle kante rondom, beskut nie?
Die werk van hulle hande het U geseën, en hulle besittings het
sterk vermeerder in die land.
Job 1:11
Maar strek net u hand uit en
tas alles aan wat hulle het—waarlik, hulle sal U in u aangesig
vloek!
Job 1:12
Daarop sê die HERE aan die
Satan: Kyk, alles wat hulle het, is in jou hand; net na hulle
self mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het
weggegaan van die aangesig van die HERE.
Job 1:13
En op ‘n dag, terwyl hulle
seuns en sy dogters besig was om te eet en te drink en soos
gewoonlik te lewe
Job 1:14
kom ‘n boodskapper na hulle en
sê:
-
Jou
dogter (Marisa) se man was in 'n kar ongeluk - hy het agter
die stuur aan die slaap geraak
-
Toe kom
nog een: Jou oudste seun (Lúdwich) se vrou was betrokke in
'n hi-jack
-
Toe kom
nog 'n boodskapper en sê: Jou oudste dogter (Elmarie) is
geskei
-
Toe kom
nog 'n boodskapper en sê: Lúdwich was in 'n motorfiets
ongeluk
-
Toe is
Johan en Ina betrokke in 'n "Smash & Grab"
-
Toe kom
die laaste boodskapper en sê: "Jou jongste seun (Emile) is
in 'n hotelkamer in Saldanha vermoor"
Job 1:20 Toe staan Johan en Ina op
en ween bitterlik terwyl hulle in aanbidding op die grond
neerval om antwoorde te kry
Job 1:21 en sê: Niks hiervan is in
lyn met God se wil nie. Niks maak sin nie want die Here het ons
geseën en nie vervloek nie: die Naam van die HERE sy geloofd!
Job 1:22 By dit alles het Johan en
Ina nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie
En nadat die aande
verbygegaan het terwyl Johan en Ina geworstel het met die rede
waarom die engele nie hulle seun beskerm het nie,
Job 42:1 Toe het Johan en Ina die
HERE geantwoord en gesê:
Job 42:2 Ons weet dat U alles kan
doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
Job 42:3 Wie verberg die
raadsbesluit daar sonder kennis? So het ons dan gedink sonder om
te verstaan, dinge te wonderbaar vir ons, wat ons nie begryp
nie.
Job 42:4 Hoor tog, en ons sal
spreek; ons sal U ondervra en onderrig U ons!
Job 42:5 Volgens hoorsê het ek van
U gehoor; maar nou het my oog U gesien.
Job 42:6 Daarom herroep ons en het
berou in stof en as.
En op die 16de
Februarie eindig die Here die boodskap af met:
Job 42:7 En nadat die HERE Johan en
Ina toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE: "Johan en
Ina, julle het reg van My gespreek"
Job 42:10 En die HERE het die lot
van Johan en Ina verander; en die HERE het hulle besittings
vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.
Job 42:11 Ook het al hulle broers
en al susters en al die bekendes van vroeër het na hulle toe
gekom en met hulle saam brood geëet in hulle huis; en hulle het
met Johan en Ina medelyde gehad en hulle vertroos oor al die
onheil wat oor hulle gekom het.
Job 42:12 En die HERE het die einde
van Johan en Ina meer geseën as hulle begin.
Job 42:13 Daarby het hulle baie kleinseuns en kleindogters gehad.
Job 42:15 En in die hele land is
geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Johan en Ina nie;
en hulle vader het hulle ‘n erfdeel gegee onder hulle broers.
Job 42:16 En Johan en Ina het
daarna honderd en veertig jaar lank gelewe; en hulle het hulle
kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.
Job 42:17 En Johan en Ina het
gesterwe, oud en afgeleef.
Dit kom basies daarop neer dat Satan by die Here gaan stellings maak
het oor ons familie dat ons Hom net aanbid omdat alles so goed gaan
met ons deur die Here se beskerming. Die Here sê toe dit is nie so
nie, ons almal dien Hom eerlik en opreg.
Toe probeer Satan om my
dood te maak maar dit het misluk – en nogtans het ons as familie nie
teen die Here gedraai nie. Toe val Satan ons kinders aan en nogtans
het ons as familie nie teen die Here gedraai nie. Elmarie, Marisa,
Chrisjan, Lúdwich en Desiree was almal in die gedrang – selfs
Sebastiaan.
Die laaste strooi was toe Satan se trawante Emile
doodgemaak het. Nou het ons aan Satan bewys dat ons nie net die Here
dien omdat Hy ons beskerm nie – ons is regtig lief vir Hom.
Nou weet
ons dit ook – dat dit nie saak maak wat met ons gebeur nie, ons sal
nie teen die Here of Sy Woord draai nie. Hy bly die God van
Waarheid. Nou het die Here die hele
ding van Satan stopgesit soos in die geval van Job en gesê dat ons
meer sal ontvang as wat ons ooit gehad het en dat ek en Mamma nie
net julle kinders sal sien opgroei nie, maar ook hulle kinders.
Wat
dan van Emile? Hy kuier nou by ons ouers en daarom wil hy nie
terugkom nie. Daarom het die Here vir ons gesê dat Emile ‘n spesiale
geval is – nie elke mens gaan deur die Job ondervinding nie, en nie
elkeen kry die belonings van die Job ondervinding nie. Ons as
familie het die Here eers van hoorsê geken en gekonsentreer op Sy
beloftes, maar toe die beloftes inmekaar stort het ons na die Here
toe gedraai en vir almal gewys dat ons nie agter die beloftes van
die Here aan is nie, maar agter die Here van die beloftes.
Die verskil tussen ons en Job was dat ons vriende gehad het wat
geweet het waarvoor ons staan en wat die Here geken het. Hulle het
nie ons aksies veroordeel nie en huille het nie gesê ons gaan deur
hierdie dinge omdat ons iets verkeerd gedoen het nie. Daarom kon ons
sterk staan en nie soos Job huil oor wat oor ons gekom het nie. Die
Here is net so trots op ons vriende as wat ons is omdat hulle by ons
gestaan het en nog steeds staan. Selfs ons familie staan by ons.
Mag die
Here julle ook so vertroos soos Hy ons gisteraand baie laat getroos
het in die wete dat die beproewings verby is en dat ons bid:”En lei
ons nie in versoekings nie, maar verlos ons van die bose”.
Die Here
is die God van Waarheid en sal doen wat Hy belowe. Hierdie ding het
tot Emile se voordeel gebeur en ons sal ook nog die voordeel daarin
sien sodra Sy Heilige Gees ons vertroos het en ons pyn minder is. Ek
is lief vir julle en ek is bitter jammer dat julle deur hierdie Job
ondervinding moes gaan. Maar weet dit – die Here is nog liewer vir
julle as wat ek is en sal sorg dat geen haar op julle hoofde iets
sal oorkom sonder dat Hy daarvan weet nie.
Ons het die ergste toets
van ons lewens geslaag en daarvoor dank ek die Here vir julle. Ons
voordeel was dat ons nie vriende soos Job gehad het nie – ons het
mekaar gehad (en dit sluit Sebastiaan en Lorelai in asook al ons
vriende van die Bybelskool). Julle was en
is nog steeds almal sterre. Dankie dat julle nie opgegee het nie. My
hart swel van trots omdat ek julle ken.
Julle is ons baniere wat ons op die aarde sal los nadat ons terug
is Huistoe en die mense sal weet dat die Here goed is en Sy beloftes
nakom. Hulle sal julle as voorbeelde hê van mense wat nie weet wat
dit beteken om op te gee nie, maar soos ‘n rots staan, soos ‘n boom
by waterstrome, vol van Christus se liefde.
Julle het die reg verdien om julleself op die skouer te klop en te sê: “Ek het
ruggraat. Die saad wat in my bedding val sal groei en baie vrug dra.
Hierdie ruggraat is ook in my kinders en sal in hulle kinders wees
tot eer van die Here. Moenie oor my jubel nie, o my vyand, ek sal
opstaan en ek sal oorwin. My asem kan nie opraak nie want Sy asem is
in my. Die verlede is agter my en Sy oorwinning lê voor”
_______________________________________________________________________________________
Ek sit in die kantoor en besluit om 'n video van Emile te kyk wat
ons gemaak het. Dit is 'n waagstuk want ek huil maklik as ek na die
video kyk.
Emile se fotos en videos kom oor die skerm en skielik kyk ek na
hom met ander oë - hy is nie langer my seun wat aan God geleen is
tot ek in die hemel kom nie, hy is God se seun wat aan ons geleen
is. Die pa - seun verhouding is weg - dit is meer soos broer - broer
maar met ontsaglike liefde, liefde wat onvergelykbaar is met enige
iets wat ons op die aarde beleef, soortgely aan die mees intieme
verhouding tussen 'n man en vrou. Skielik is ek onvoorwaardelik lief
vir Emile. Ek weet skielik ek gaan nie sy agterend skop as ek in die
hemel kom omdat hy nie wou terugkom nie - al sê ek dit baie om die
hartseer weg te steek.
Hy is nie net 21 nie - hy is 'n volwasse man, 'n kind van God,
sonder bekommernisse en sonder negatiwiteit, volkome een met God die
Vader, Jesus en die Heilige Gees.
Elke keer as ek twyfel of ons te min gedoen het om hom op te wek,
dan herinner die Here my aan die feit dat Hy 'n God van Waarheid is.
Elke keer as ek kwaad is omdat die Here nie vir Emile beskerm het
soos ons gevra het nie, dan weet ek dat Emile 'n spesiale geval was.
Die Here wil nie hê dat ons dood moet gaan voor ons 100 jaar oud is
nie. Die Here wil nie hê dat ons in ons bed aangeval moet word nie,
of dat ons met klippe doodgemaak moet word soos met sommige van Sy
dissipels nie, maar partykeer gaan ons deur die Job Ervaring omdat
daar dinge is wat gebeur in die hemel wat nie inpas in ons
humanistiese denke nie.
God se gedagtes is nie ons sin nie en ons sin is nie God sin nie
- MAAR DIE HERE WIL DIT NIE SO Hê nie. Hy wil hê ons gedagtes moet
Syne wees en Sy gedagtes moet ons s'n wees. Al wat ons moet doen is
om te luister en God sal dit verduidelik.
Maar ons sal ons humanistiese denkes moet opgee. Emile is nie
dood nie, hy het gegradueer en is huistoe. Hy is in God se
teenwoordigheid.
Maar wat van ons? Die Here wil nie hê dat ons net aan onsself
moet dink en treur nie, ons moet bly wees vir Emile se part dat hy
waardig geag was om so gou hemel toe te gaan. Ons lewe op die aarde
is vir ons en God belangrik, maar ons moet nie daaraan klou asof dit
al is wat bestaan nie. Sodra jy dood gaan, is jy in die hemel (as jy
vir die Here gesê het jy is jammer oor jou sondes en jy aanvaar
Jesus as die Persoon wat vir al jou sondes betaal het).
Die Bybel se bladsye gee vir ons die algemene reëls en riglyne,
maar ons verhouding bestaan uit baie meer uit as reëls en regulasies.
Luister na Sy Gees en neem wat Hy sê ernstig op. Moenie dat die
Duiwel jou oortuig dat die gedagtes wat in jou opkom net uit jouself
is nie. Spandeer tyd met die Here dan sal dit makliker wees om Sy
stem te herken.
Johan
Dit was die woorde wat hy geskryf het toe hy in die laerskool was en
te lui was om verder aan die opstel te skryf. Dit het die skool se
koerantjie gehaal!
Nou sê ons ook so omdat ons hom weer gaan sien dan
sit ons ons verhouding voort net daar in die hemel!